Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 22 SEPTEMBER 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons aankondig dat die sleutel van Frank Mercier, ZS6MER, op 6 September 2013 in die ouderdom van 82 jaar, stil geraak het. Welbekend as die ‘Vriendelike Reus’ was hy baie betrokke by radiokommunikasie tydens- motor en moterfietstydrenne sowel as by Hamnetbyeenkomste in die Wes-Kaap. Hy laat 3 susters, 4 kinders en verskeie kleinkinders agter.

Ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

(POUSE).

IN DIE NUUS VANDAG:

SARL SE ANTENNAVERDEDIGINGSPROJEK

BESPEEK NOU VIR DIE RTA IN KAAPSTAD

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SARL SE ANTENNAVERDEDIGINGSPROJEK

Met die projek word steeds vordering gemaak. Soos die SARL se regsadviseur, Johann Marais, ZS1JM, ‘n tyd gelede gesê het, is die proses kompleks en sal dit nog 'n aansienlike tyd in beslag neem.

"In 'n stadium het ons oorweeg om die Minister van Wetenskap en Tegnologie te nader om 'n eienaar van grond van die bepalings van die nasionale bouregulasies vry te stel in die geval van antennas vir radioamateurs. Die Wet laat die Minister toe om 'geboue', wat antennas insluit, vry te stel en sodanige vrystelling kan in die Staatskoerant gepubliseer word. Met die onlangse hofsake wat verband hou met 'munisipale beplanning' synde die eksklusiewe uitvoerende reg van plaaslike owerhede, blyk dit dat elke munisipaliteit die reg het om die 'gebruik' soos in Soneringskemaregulasies gedefinieer is, te bepaal. Dit sou dus geen doel dien om die Minister te nader nie," het Johann Marais die SARL-Raad tydens die onlangse telekonferensie van die Raad, meegedeel.

"Verder die soneringskemas word tans gereguleer deur verouderde verordeninge met die oudste een beslis die 1939 Ordonnansie vir Transvaal Plaaslike Regerings, Natal (KZN ). Die LUR van die Wes- Kaap beoog 'n nuwe "Grondgebruikbeplanningwetsontwerp" wat herskryf gaan word na kommentaar van die publiek. Daar is ook 'n nuwe Gauteng Beplanning- en Ontwikkelingswestontwerp wat in die finale stadium van opstelling is. Daar is ook soortgelyke wetsontwerpe wat in ander provinsies opgestel word. Hierdie wetsontwerpe sal waarskynlik binne die volgende 18 tot 24 maande in werking tree. Dit sal raadsaam wees om die nuwe beplande wetsontwerpe te ondersoek. Ons moet na die byna finale konsepte kyk voor die afronding van ons aanbieding."

"Dit sal, in afwagting van die nuwe wetsontwerpe, waarskynlik baie moeilik wees om 'n plaaslike LUR te oortuig om die bestaande verordeninge te verander om die probleme wat amateurs tans in die gesig staar in verband met die beplanning van antennas wat in residensiële gebiede opgerig staan te word."

"Dit moet ook duidelik wees dat om enige vordering op hierdie tydstip te maak, moet ons ons saak aan 9 verskillende LUR's voorlê, het Johann Marais, ZS1JM gesê.

Daar word nog baie inisiatiewe in die agtergrond oorweeg, maar hulle is egter van 'n sensitiewe aard en kan die SARL se posisie in gevaar stel as hulle op hierdie tyd openbaar gemaak word.

In die tussentyd gaan die fondsinsameling voort om die antennaverdedigingsfonds te versterk. Vir meer besonderhede besoek www.amateurradio.org.za/adf.htm.

BESPEEK NOU VIR DIE RTA IN KAAPSTAD

Die Radio Tegnologie-in-Aksiesimposium op 5 Oktober in Bellville is die laaste in die 2013 reeks. Bespreek nou, dit is 'n geleentheid wat nie misgeloop mag word nie. Volledige programbesonderhede en die besprekingsvorm is op die web beskikbaar. Besoek www.sarl.org.za en volg die skakel op die tuisblad se nuusafdeling. Jy kan ook die status van jou bespreking nagaan. Die besprekings sluit op Woensdag 2 Oktober 2013, waarna dit net moontlik sal wees om 'n instapregistrasie te doen wat aansienlik meer sal kos.

Die RTA wat in Durban verlede week gehou was was goed bygewoon en sprekers het 'n groot reaksie van die afgevaardigdes uitgelok. Dankie aan Dave Long, ZS5FR, wat die reëlings getref het en die spyseniering gereël het, en Laurie Devereux wat met die hulp van Glenn Duffy die registrasie gedoen het.

JOU AMATEURRADIO VIDEO KAN GROOT WEN

Die Suid-Afrikaanse Amateurradio Ontwikkelingstrust nooi amateur videograwe uit om aan 'n videokompetisie deel te neem en vir 'n paar groot pryse te kompeteer. Word kreatief met jou kamera of selfs jou smartphone. Skiet 'n kort video van 'n opwindende amateurradio-aktiwiteit in Suid-Afrika en jy kan 'n 5 watt GG MFJ 40 meter sendontvangerstel ter waarde van R 1300, sowel as een van die vele ander pryse, wen, die lys van pryse groei daagliks. Die videoformaat kan AVI, WMV of MPEG wees met 'n minimum resolusie van 320 x 240. Die video behoort tussen 3 en 5 minute te duur. Die onderwerp kan enigiets wees wat die vreugde en opwinding van amateurradio aantoon. Inskrywings moet op 'n CD of DVD ingestuur word. Moenie probeer om dit te e-pos nie. Stuur jou video na: Amateurradio Videokompetisie, Posbus 90438 , Garsfontein, 0042. Die sluitingsdatum is 31 Desember 2013. Die wenners sal vroeg in 2014 aangekondig word. Kry volle besonderhede op www.amateurradio.org.za.
KANTOORNUUS

Gedurende die afgelope week, was die kantoor van die SARL gesluit. Die administrateur, Mariska, moes 'n oogoperasie ondergaan. Mariska sê dat die operasie baie suksesvol was, en dat haar ander oog later geopereer sal word.

As gevolg van die kantoorsluiting is daar hierdie week geen statistiek beskikbaar oor nuwe lede of oor klubaffiliasie nie. Hierdie administratiewe take sal in die komende week weer op datum gebring word.

SPITSE OP DIE LUG

Spitse op die lug, in Engels “Summits on the Air” of in kort SOTA, is vanjaar 10 jaar oud. Om dit te vier en jou in staat te stel om daaraan deel te neem gaan 'n paar lede van die Secunda Amateurradioklub dit vir jou makliker maak. Sid, ZS5AYC, Adele, ZS5APT, Christo, ZR6LJK, en Lucas, ZS6ACT, be-oog om tussen Saterdag 21 September en Sondag 22 September van die spitse in die Drakensberggebied te aktiveer, SOTA verwysing ZS/KN-032, ZS/KN-010 en ZS/KN-011. Hulle sal aktief wees vanaf ±9:30 in die omgewing van 7,090 MHz en 14,165 MHz. Ter selfder tyd gaan Willie, ZS6WBT, probeer om Magaliesberg, ZS/NW-001, te aktiveer. Gee hulle asseblief 'n kontak en maak vir jouself ook 'n paar punte bymekaar. Vir meer inligting besoek die Secunda webtuiste by www.secradio.org.za/src.php.

SOTA is 'n internasionale program wat radioamateurs aanmoedig om hul stokperdjie uit te brei na kwalifiserende bergspitse. Daar is 3 groepe deelnemers naamlik aktiveerders, volgers en luisteraars. Aktiveerders is die mense wat 'n stasie vanaf die bergkruin bedryf en die volgers maak vanuit die gerief van sy hok, met hulle kontak. Selfs net luisteraars kan ook deelneem deur die QSO's te log. Vir elkeen van die 3 groepe is daar sekere riglyne en ook toekennings. In die RSA is daar meer as 300 kwalifiserende spitse. Elke spits tel 'n sekere aantal punte. Eis jou punte op deur kontak te maak en dit dan te log by www.sotadata.org.uk/. Hierdie inligting kan verkry word op internet by www.sota.org.uk en die RSA spesifieke inligting by www.qsl.net/sotasa of kontak Lucas by 082 314 3265.

OOS-RAND SNUFFELMARK

Alle radioamateurs word uitgenooi na die jaarlikse snuffelmark aangebied op 5 Oktober 2013 deur die Oos-Randklub. Die pret begin om 12:00. Klublede sal op 145,625, die Oos-Randherhaler, QRV wees.

Die terrein is Arrowe Park in Atlasweg, net af van die N12 langs Boksburg/Benoni.

Tafels sal teen 'n nominale bedrag beskikbaar wees. Eet- en drinkgoed sal te koop wees. Daar sal BAIE goeie radio’s en ander toerusting beskikbaar wees.

Kontak Hennie Rudman, ZS6RHL, by 083 380 3334 om 'n tafel vir jou te bespreek.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly met 'n paar C-klas fakkels wat in die omgewing van Sonvlek 1 850 opgemerk is.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 48.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees.

Besoek gerus die nuwe webtuiste http://spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
22 September – Drakensberge, Spitse op die LUG, 7,090 en 14,165 MHz.
25 September – Laaste dag vir lede wat belangstel om te help by Eskom se Expo vir jong wetenskaplikes om hulp aan te bied, kontak ZS3TG, Gerhard Coetzee by 082 576 6296 of ZS6YH, Mitchell Mynhardt by 082 773 1980.
25 tot 28 September - Eskom se Expo vir jong wetenskaplikes in die Birchwood Hotel en konferensiesentrum se Uitstallingsaal, Boksburg.
2 Oktober – Laaste dag om vir die RTA in Kaapstad te registreer, gaan na www.sarl.org.za.
5 Oktober – Oos0Randklub se snuffelmark om 12:00.
17 Oktober – Radioamateureksamen.
31 Desember – Laaste dag vir inskrywing van amateurvideo, besonderhede verkrygbaar by www.amateurradio.org.za.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003